Is die gietvorm (die vorm) regtig 'n been of regtig 'n blaar?
Nee, dit het die vorm van die been of blaar gehou.
In Hoofstuk 4 behandel ons fossiele - die vorms wat in rotse gelos word wanneer 'n plant of dier doodgegaan het en met modder bedek word, of die fossiele van liggame waar die oorblyfsels oor 'n lang tydperk behoue gebly het. Die hoofstuk behandel ook die belangrikheid van fossiele en dit is 'n goeie geleentheid om die belangrike rol wat Afrika, en spesifiek Suid-Afrika, in die opteken van die geskiedenis van die bestaan van lewe op aarde speel, en ook die belangrike fossiele wat in Suid-Afrika gevind is, te bespreek.
Hierdie is ou foto's van fossielsoekers! Hierdie mense kap stukke skalie oop. Hulle soek fossiele in die rots. Die lae skalie word oopgebreek en hy sien die vorm van 'n blaar of dier in die rots. Die vorm word 'n fossiel genoem.
Regoor die wêreld vind mense fossiele van blare en bene in die lae afsettingsgesteentes. Hierdie blare en bene kom van plante en diere wat miljoene jare gelede geleef het. Hulle het nie soos die plante en diere gelyk wat ons vandag sien nie.
'n Fossiel is nie die regte blaar of been nie; die rots het die vorm: van die blaar of been gehou. Die rots word 'n fossiel genoem. Hier onder kan jy 'n foto van 'n fossiel van die kop van 'n dinosourus sien. Die volgende prent wys jou hoe 'n wetenskaplike dink die dinosour gelyk het.
Die fossiel van die dinosourus se kop is nie die werklike bene nie, maar is in werklikheid nou 'n rots in die vorm van die dinosourus se bene. Oor miljoene jare het die bene in rots verander. 'n Fossiel is dus die oorblyfsels van 'n antieke plant of dier wat in die rots behoue gebly het. Die meeste organismes wat paleontoloë bestudeer, het reeds uitgesterf. Dit beteken dat hulle nie meer vandag lewe nie.
Die aarde se verlede is fassinerend. Verbeel jou jy kon lewe toe al die dinosourusse op die aarde gebly het. Mense wil meer uitvind van die geskiedenis van lewe op aarde.
In die onlangse geskiedenis het ons boeke geskryf waarin wat gebeur het opgeteken is. Ons kan in 'n boek, wat iemand wat lank gelede gelewe het geskryf het, oplees oor die tydperk waarin hy gelewe het. 'n Miljoen jaar gelede het daar nie mense op die aarde gebly nie, en niemand kon neerskryf wat gebeur het nie.
Ons moes dus ander maniere kry om uit te vind hoe die lewe op aarde 'n miljoen jaar gelede was. Om dit te doen moet wetenskaplikes fossiele gebruik. Fossiele is eintlik ons mees waardevolle bron van inligting oor die antieke verlede.
Wat kan fossiele ons leer oor die lewe van lank terug? Fossiele vertel ons oor die organismes wat lank terug gelewe het. Verbeel jou hoe die eerste wetenskaplike wat dinosourus bene ontdek het gevoel het! Hierdie bene was baie groter as enige ander dier wat vandag op die aarde lewe. Dit het dadelik vir die wetenskaplikes gesê dat hierdie diere van die verlede baie groot was.
Fossiele kan ons meer vertel van watter organismes miljoene jare gelede gelewe het. Deur die fossiele van plante en diere te bestudeer kan wetenskaplikes ook inligting kry oor hoe die organismes gegroei het, wat hulle geëet het, die omgewing waarin hulle geleef het en selfs sommige aspekte van hul gedrag en hul interaksies met mekaar.
Deur die fossiele van 'n dier se ontlasting te bestudeer, kan ons byvoorbeeld uitvind wat 'n dier geëet het.
Deur uit te werk watter plante tydens 'n sekere tydperk op die aarde gegroei het, kan wetenskaplikes uitwerk hoe die klimaat tydens daardie tydperk was. Ons weet nou wanneer daar ystydperke (toe die hele aarde vir duisende jare met ys bedek was) was, en wanneer dit warmer was en daar droogtes was.
'n Versteende voetspoor kan ons baie leer oor prehistoriese diere, soos hoeveel dit geweeg het, hoe groot dit was en selfs hoe vinnig dit kon hardloop.
Die lae rots wat laer af is, is die oudste aangesien hulle eerste afgeset is. Die fossiele in hierdie lae sal van 'n vroeër tydperk wees as die fossiele wat nader aan die oppervlak is.
Het jy al die liggaam van 'n dooie voël gesien? Honde, vlieë, miere en kewers dra dele van die liggaam weg. Die wind waai die vere weg en binnekort sal daar niks oor wees om te sien nie.
Soms het dit nie so gebeur nie. Verbeel jou die dier het in 'n rivier doodgegaan. Daar was 'n vloed en die rivier het die liggaam vinnig met sand bedek. In die jare daarna het meer vloede meer sand afgebring en dit bo-op neergesit. Die swaar sand druk af op die onderste sediment. Stadig maar seker word die onderste sediment afsettingsgesteentes.
Kom ons probeer ons eie model maak om te verstaan hoe fossiele in afsettingsgesteentes gevorm word.
Fossielsoekers soek fossiele in afsettingsgesteentes. Hulle weet nooit of hulle 'n fossiel sal kry of nie. Hulle moet die rots oopskeur om te kyk of daar fossiele is. Jy gaan 'n model van 'n rots maak wat jy sal oopforseer.
Jy moet gips aanmaak en dit regkry vir die leerders. Wys jou leerders hoe om dit te doen, want dit is deel van hulle tegnologie kennis in die prosesseringsafdeling. Maak genoeg vir twee of drie groepe om gelyk te gebruik, want dit begin vinnig hard word nadat jy water bygegooi het. As jy nie gips kan kry nie, kan jy gidspleister by 'n hardeware winkel kry. Dit is sement wat met fyn sand gemeng is. Jy kan ook stopverf, ook by 'n hardeware winkel beskikbaar, gebruik. Meng sementpoeier of Polyfilla met die stopverf om dit vinnig te laat hard word. Jy kan ook soutdeeg gebruik. Meng 'n koppie koekmeelblom met ½ koppie water en gooi 'n teelepel sout by. Meng die meel en water totdat jy 'n stywe deeg het wat jy kan vorm. As 'n laaste opsie kan jy rivierklei gebruik; maak dit styf sodat dit die vorm van die been of blaar kan hou. Laat dit buite in die son hard word.
MATERIALE:
INSTRUKSIES:
Elke groep moet 'n model van 'n rots maak met 'n fossiel in.
Natuurlik is dit meer pret as elke kind sy/haar eie fossiel maak, so probeer die les so reël dat almal dit kan doen.
Dag een:
Dag twee:
Dag drie
Let op dat die vorm onderste bo gedraai moet word om dit uit te kry.
VRAE:
Kyk versigtig na die gietvorm en probeer die blaar of been teken soos dit regtig was.
Probeer uitwerk van watter soort plant die blaar kom, of van watter soort dier die been kom.
Is die gietvorm (die vorm) regtig 'n been of regtig 'n blaar?
Nee, dit het die vorm van die been of blaar gehou.
Onthou jy wat jy oor gips geleer het in die tweede kwartaal in Materie en Stowwe? Watter eienskappe van gips maak dit 'n goeie stof om te gebruik in die aktiwiteit?
Die gips is eers nat en sag wanneer jy die poeier en die water meng. Dit kan gebruik word aangesien die gips om die been vorm soos die modder van lank terug sou doen. Die gips word dan baie hard, net soos die modder en rots oor tyd gedoen het. Dit is nuttig aangesien dit die gietvorm van die been vorm wat hard geword het.
Nou dat jy 'n afdruk van 'n voorwerp gesien het wat deur gips gemaak is, kom ons kyk hoe 'n dinosourus se fossiel miljoene jare gelede gemaak is.
Kyk na die prente hier onder en lees die verduideliking vir elke stap in die proses van fossielvorming.
Lank, lank gelede het 'n dinosourus op die oewer van 'n rivier gesterf, soos die trikeratops in die prent.
Die vleis van die dinosourus ontbind of ander diere eet dit. Net die geraamte bly oor.
Daar was 'n vloed en die rivier het gestyg en die geraamte met modder en sand bedek.
Oor tyd het meer vloede meer lae sand en modder oor die geraamte neergesit. Na duisende jare het die onderste lae kompak begin word en in afsettingsgesteentes verander. Onder die grond het die water rotsstowwe in elke klein gaatjie waar 'n been was laat invloei. Rots het in die plek van been gevorm. Ons sê die bene het versteen. 'n Versteende been het dieselfde vorm as die oorspronklike been, maar is baie swaarder.
Miljoene jare later het die toestande van die omgewing bo-oor die geraamte dalk verander. Die rots verweer en erodeer deur wind en water en die fossiel word op die oppervlak blootgelê. 'n Wetenskaplike sien die fossiel en 'n fantastiese ontdekking word gemaak.
Ander wetenskaplikes kom werk saam en hulle grawe die fossiel op deur die rots en sand om die geraamte versigtig te verwyder. Die fossiele sal versigtig verpak word en na 'n museum of navorsingsentrum vervoer word waar die wetenskaplikes dit bestudeer om te sien wat hulle van prehistoriese lewe kan leer. Hulle sal die bene weer aanmekaar probeer sit om 'n heel geraamte te vorm - dit kan 'n paar maande vat!
Ons het al 'n klomp verskillende fossiele in die hoofstuk gesien. Fossiele kan in twee groepe verdeel word:
'n Liggaamsfossiel wys jou die vorm van die liggaam van die plant of dier. Liggaamsfossiele sluit tande, bene, skulpe, stingels, blare en sade in.
Soms het 'n dier net 'n teken gelos dat hy daar was. Wanneer jy byvoorbeeld oor nat sement stap los jy jou voetspoor wat in die sement behoue gaan bly wanneer dit hard word. Kyk na die prent hier onder.
Sommige antieke diere soos dinosourusse, mag dalk oor nat modder geloop het en hul voetspore in die modder gelos het, soos in die prent hier onder. Die dinosourus los 'n spoor agter. Oor miljoene jare bly hierdie voetspoor behoue en word 'n spoorfossiel.
Gebruik die diagram hier onder en jou voorkennis oor hoe afsettingsgesteentes vorm om opskrifte vir elkeen van die fase van die vorming van spoorfossiele te skryf.
Spoorfossiele kan ook van diere se neste, eiers en mis gemaak word.
'n Liggaamsfossiel sal in die vorm van die organisme wat versteen het wees. 'n Spoorfossiel is 'n bewys, anders as 'n versteende liggaamsdeel, dat 'n organisme bestaan het, soos lêplekke (gate), sleepsels of spore, eiers, neste en ontlasting (dinosourus se mis)
Sommige fossiele van ou organismes lyk baie soos plante en diere wat vandag nog leef.
Het jy geweet dat Suid-Afrika wêreldbekend is wanneer dit by die ontdekking van fossiele kom? Suid-Afrika het 'n baie ryk fossielrekord van plante, diere en vroeë mense. Kom ons kyk na 'n paar hiervan.
Weet jy van enige belangrike fossiele wat in jou area ontdek is? As jy doen, skryf dit hier onder neer. Indien nie, vind uit waar die naaste fossiel aan jou ontdek is en skryf dit neer.
Sommige van die mees antieke fossiele waarvan ons weet, is in rotse in die Barberton area in Mpumalanga gekry.
Weet jy waar in Suid-Afrika dit is? Soek dit op 'n kaart! Hierdie fossiele is meer as 3000 miljoen jaar oud! Dit is baie, baie oud. Hulle lyk soos blou-groen bakterieë.
Wat is bakterieë? Vind uit en skryf 'n kort verduideliking hier onder.
Bakterieë is 'n groot groep mikro-organismes wat net uit een sel bestaan. Hulle is mikroskopies en sommige veroorsaak siektes.
Weet jy waar Grahamstad in die Weskaap is? Grahamstad is bekend in die argeologiese wêreld omdat dit van die oudste en bes bewaarde fossiele van die vroegste plante van miljoene jare gelede het.
Kyk na die vorm van Afrika en Suid-Afrika op die klas se aardbol. Die vorms kan saampas soos in die prent hier onder. Die diagram wys hoe wetenskaplikes dink die vastelande van die aarde miljoene en miljoene jare gelede gelyk het. Dit is Pangaea genoem.
'n Suid-Afrikaanse wetenskaplike het gedink dat Afrika en Suid-Amerika moontlik baie jare gelede aanmekaar vas was. Niemand het egter geweet of dit waar was nie.
Wetenskaplikes het toe fossiele van plante, wat Glossopteris genoem word, in rotse in Suid-Amerika en in Suid-Afrika gevind. Dit het veroorsaak dat meer mense gedink het dat Afrika en Suid-Amerika eens op 'n tyd aan mekaar vas was. Die prent hieronder, die donkergroen dele, wys hoe wetenskaplikes dink die plant Glossopteris oor die wêreld gegroei het.
Watter nommer verteenwoordig Suid-Amerika en watter nommer verteenwoordig Afrika vandag?
Suid-Amerika = 1, Afrika = 2
Dink jy die fossiel van Glossopteris blare is spoor- of liggaamsfossiele? Verduidelik jou antwoord.
Dit is 'n liggaamsfossiel aangesien die blaar met modder bedek was en dan oor tyd in 'n fossiel verander het. Dit is nie 'n afdruk nie; die werklike harde deel van die plant het behoue gebly.
Fossiele van dinosourusse is oral oor die wêreld gevind. Een van die beste plekke in die wêreld om fossiele te vind, is die afsettingsgesteentes in die Drakensberge en die Maluti berge in suidelike Afrika.
Waar in Suid-Afrika is die Drakensberge? Skryf die provinsies se name neer.
Meestal in Kwa-Zulu Natal maar ook in Mpumalanga.
Reptiele het voor soogdiere bestaan. Die rekord van fossiele wys egter dat daar diere was wat soortgelyk aan die soogdiere wat ons vandag ken was, alhoewel hulle eintlik reptiele was. Hulle was 'n tussen-in spesie. Hulle word Therapsids genoem. Fossiele van die diere is in die Karoo in Suid-Afrika gevind.
Fossiele van sommige van die eerste soogdiere op aarde is ook in die rotse van die Drakensberg en in die Oos-Kaap en Lesotho gevind.
Waar is die Karoo? Graaff-Reinet is 'n dorp in die Karoo. Soek die dorp op die klas se aardbol. Soek dit op 'n kaart. Noem van die ander dorpe wat mens in die Karoo kry.
Somerset-Oos, Willowmore, Jansenville, Aberdeen
Kyk na die prent hier onder. Jy sal 'n vis sien wat in die see naby Oos-Londen gevang is. Die vis is 'n Selekant.
Wetenskaplikes van ander lande het na Suid-Afrika gestroom om die Selekant te sien. Hulle kon nie glo dat enige Selekante nog in die see lewe nie. Die wetenskaplikes het geweet van die selekant omdat hulle fossiele van die vis in Engeland en Duitsland bestudeer het, maar die fossiele was 80 miljoen jaar oud. Wetenskaplikes het gedink dat die Selekant miljoene jare gelede uitgesterf het. Ons noem die selekant nou "lewende fossiele".
Hoe is die vis anders as ander visse? Kyk na sy stert en voorste vinne.
Die stert is dik en vlesig. Vier van die vinne het vlees en skubbe op hulle; dit lyk amper soos bene. Wetenskaplikes wat hierdie fossiele bestudeer het, het gewonder oor hierdie "bene". Hulle het gewonder of die vis die voorloper vir vierbeen landdiere was.
Die Wieg van die Mensdom is 'n wêrelderfenisgebied. Dit word die "Wieg van die Mensdom" genoem omdat baie mense en wetenskaplikes nou glo dat dit is waar die mens eerste ontwikkel het. Die geboorteplek van mense is in ons land!
Wat beteken dit as 'n plek 'n wêrelderfenisgebied is? Vind uit en skryf jou antwoord hier onder neer.
Dit is 'n natuurlike of mensgemaakte area of struktuur wat internasionaal as baie belangrik beskou word en daarom beskerm moet word.
Die Wieg van die Mensdom is in Maropeng net buite Johannesburg in Gauteng. Die naam Maropeng, 'n Setswana woord, beteken "keer terug na die plek van oorsprong"
In die Wieg van die Mensdom is daar omtrent 'n 1000 fossiele van voormense gevind wat miljoene jare terug dateer.
Daar is altesaam 15 groot terreine met fossiele in die Wieg van die Mensdom. Die Sterkfonteingrotte is die bekendste. Swartkrans en Bolt-plaas is ook terreine in die Wieg van die Mensdom waar fossiele gevind is.
Die fossiele van "Mrs Pleis" en "Little foot" is altwee by Maropeng gevind saam met duisende mensagtige (hominiede) fossiele, wat mense se voorgangers is, sowel as plant- en dierfossiele.
Toeriste van oral oor die wêreld, selfs van Suid-Afrika, gaan kyk na die grotte en die fossiele in die Wieg van die Mensdom en kry ongelooflik baie kennis oor die geskiedenis van die mensdom. As jy in of naby Johannesburg bly, was jy dalk al gelukkig genoeg om Maropeng en die Wieg van die Mensdom te kon besoek.
Gebruik die inligting hier bo oor die Wieg van die Mensdom om hierdie vrae te beantwoord.
Waarom is die Wieg van die Mensdom bekend?
Belangrike fossiele oor die geskiedenis van die mensdom is daar gevind.
Verduidelik waarom jy dink dit die Wieg van die Mensdom genoem word.
Dit is omdat mense Maropeng as die geboorteplek van moderne mense beskou. Daar word geglo dat mense vanuit Afrika ontwikkel het.
Wat is die name van die twee bekendste hominiede fossiele wat in die Wieg van die Mensdom gevind is?
Mrs Pleis en Little Foot
Verduidelik waarom jy dink die fossiele by Maropeng deur die landswette beskerm word.
Die fossiele is baie belangrik omdat hulle die evolusie van mense help verduidelik. Hulle moet beskerm word anders gaan hulle geskuif of vernietig word.
Antwoord: Kango-grotte
Wat beteken Maropeng?
"Keer terug na die plek van oorsprong"
Ons het gesien dat daar baie fossiele reg oor Suid-Afrika ontdek is. Kom ons merk al hierdie plekke in die volgende aktiwiteit op 'n kaart.
INSTRUKSIES:
Skryf die belangrike fossiele wat daar gevind is langs die plek se naam neer.
Is die fossiele van diere van been gemaak? Verduidelik wat 'n fossiel is.
'n Fossiel is 'n klip in die vorm van 'n been. Stowwe soos rots het die plek van elke klein deeltjie been geneem.
In watter tipe rots vind mens gewoonlik fossiele?
Afsettingsgesteentes.
Waarom dink jy kry mens fossiele in hierdie tipe rots?
Afsettingsgesteentes kan fossiele bevat omdat hulle, anders as ander rotse, by temperature en druk vorm wat nie fossielreste vernietig nie. Dooie organismes kan sediment word wat, mettertyd, afsettingsgesteentes word. Ander soorte rots, soos magma, sal die fossiele vernietig.
Versteende hout brand nie. Waarom nie?
Versteende hout word van steen gemaak.
Sommige rotse kom uit vulkane. Dit is rooiwarm en wanneer dit afkoel word dit hard. Kan jy fossiele in sulke rotse kry? Hoekom?
Nee, want die rooiwarm rotse sal enige plant of been wat daarop val verbrand.
Noem twee fossiele wat vir ons die verskillende lewende dinge wat lank terug in Suid-Afrika gelewe het wys.
Massospondylus, therapsids, glossopteris ens.
Verduidelik hoe jy dink fossiele ons kan help om te verstaan hoe lewe op aarde lank terug was.
Fossiele is 'n rekord van hoe die lewe miljoene jare gelede was. Ons weet nie hoe dit was nie, en daar was niemand wat dit kon neerskryf nie. Fossiele gee vir ons inligting soos watter soorte plante en diere gelewe het, hoe hulle mettertyd verander het en die effek van klimaatverandering op die aarde. Ons kan selfs sê wat diere geëet het as ons hulle tande en mis bestudeer.