Elektrisiteit uit die hooftoevoerkabel


  • Waar het die elekrisiteit van die hooftoevoer vandaan gekom?
  • Wat is fossielbrandstof en hoe het dit onder die grond gevorm.
  • Waarom moet ons energie bespaar en hoe kan ons dit doen?
  • Waarom is onwettige elektrisiteitskakelings so gevaarlik?
  • Wat is die verskil tussen hernubare en nie-hernubare energiebronne?

Die eenheid leen homself tot die soek vir inligting, prente, simulasies en videos op die internet, die biblioteek, tydskrifte en boeke. Die basiese inligting oor die kernonderwerp word hier voorsien, maar onderwysers en leerders moet die onderwerp verder ondersoek.

Ons is so gewoond aan elektriese toestelle aan en af skakel dat ons nie eers meer dink aan hoe dit moontlik is om die goed te hê nie. Ons fokus skuif nou na elektriese toestelle wat 'n hooftoevoerkabel nodig het. Jy het voorbeelde soos die televisie, 'n rekenaar, 'n ketel en baie ander al reeds genoem.

Die groot vraag is: "Waar kom die elektrisiteit in die hooftoevoerkabel vandaan?"

Fossielbrandstof


'n Battery het opgegaarde energie wat in elektriese energie kan verander. Ons huise, skole, winkels en fabrieke kan egter nie batterye gebruik nie, want hulle kan nie genoeg energie opgaar om die groot hoeveelhede wat die plekke nodig het, te voorsien nie. Elektrisiteit doen baie van ons werk vir ons en ons gebruik dit elke dag. Die hoofverskaffer van elektriese energie is kragstasies. Ons noem dit "hooftoevoerelektrisiteit". Kragstasies het egter ook 'n bron van energie nodig om elektrisiteit te maak. In Suid-Afrika kom dit meestal van fossielbrandstof.

Wat is fossielbrandstof?


Steenkool, olie en aardgasse


Onthou jy dat jy in Graad 5 in Die Aarde en die Heelal geleer het oor fossiele. Skryf neer wat jy dink 'n fossiel is.



'n Fossiel is die oorblyfsels van 'n dooie organisme (plant of dier) van miljoene jare gelede.


Fossielbrandstof is dus eintlik die oorblyfsels van prehistoriese organismes wat miljoene jare gelede gelewe het!

Sjoe, dit is ongelooflik! Brand ons dan eintlik 'n regte boom wat drie miljoen jaar gelede geleef het as ons steenkool brand?

Dis reg, Jojo. Maar verskillende fossielbrandstowwe kom van verskillende organismes en vorm op verskillende maniere.

Kom ons gaan op 'n reis na die verlede - miljoene jare terug!


Hierdie aktiwiteit moet as 'n leesbegrip vir waardering gedoen word. Die ideaal is dat leerders self die teks moet lees en dan die vrae wat volg moet antwoord. Dit is 'n belangrike vaardigheid om 'n klomp teks te kan lees, die hoofgedagte te kan identifiseeer en dan vrae oor die stuk te kan beantwoord of die teks te kan opsom.

INSTRUKSIES:

  • Lees die teks hier onder oor hoe fossielbrandstowwe gevorm word en bestudeer die prente.
  • Beantwoord dan die vrae wat volg.

300 mijoen jaar gelede...

Dink oor hoe die aarde so lank terug moes gelyk het! Daar was oral moerasse en vleie en dit was warmer as wat dit vandag is. Antieke bome, varings en plante het oral gegroei. Daar was vreemde diere wat op die aarde geloop het. Die visse wat in die riviere en diep in die oseane en seë gebly het, was nog vreemder.

'n Antieke, prehistoriese wêreld.

Toe hierdie prehistoriese plante en diere gesterf het, het hul liggame op dieselfde manier ontbind as wat organismes vandag ontbind. Die dooie organismes word onder lae en lae modder, rots, sand en water begrawe. Mettertyd bou hierdie lae op en word baie diep en sit dit baie druk op die lae onder dit.

Miljoene jare gaan verby en die dooie diere en plante ontbind stadig en vorm fossielbrandstowwe. Verskillende soorte fossielbrandstowwe vorm afhangend van verskillende faktore. Dit hang byvoorbeeld af of die oorblyfsels van plante of diere of 'n kombinasie kom en vir hoe lank die oorblyfsels van die organismes begrawe was. Die soort fossielbrandstof wat vorm hang ook af van hoe die temperatuur en die druk tydens die stadium van ontbinding was.

Olie en aardgasse.

Olie is 'n donker, dik vloeistof wat ons kan gebruik om petrol in voertuie soos motors, busse en trokke te brand. Aardgasse is kleurloos en word meestal in huise gebruik om te kook en vir hitte.

Olie en aardgasse word van organismes (plant en dier) gevorm wat in die oseane gebly het, selfs voor daar dinosourusse was. Toe die organismes gesterf het, het hulle na die bodem van die rivier of die oseaan gesink en lae modder en sand (slik) het oor dit gaan lê. Die modder en sand het stadig maar seker in rots verander en die rots en die waterdruk het afgedruk op die oorblyfselfs van die dooie plante en diere.

Trilobiet
Limulus
Ceratodus
Ammonoids

Na miljoene jare van onder druk en hitte wees, verander die plante en diere in 'n dik vloeistof wat ru-olie genoem word. In die dieper, warmer plekke vorm klein borreltjies aardgas. Hulle was onder die rotse vasgevang.

Mettertyd begin van die olie en aardgasse boontoe beweeg deur die rots en die aarde se kors en beweeg in rotsformasies wat dekkingsrots genoem word in. Vandag word omtrent al die olie en aardgasse uit hierdie dekkingsrotse ontgin deur in die lae rots in te boor.

Steenkool

Steenkool is 'n swart rots wat wat gebrand kan word om energie in kragstasies oral oor die wêreld te produseer.

Steenkool word gevorm van die oorblyfsels van dooie bome, varings en sommige ander plante wat 300 tot 400 miljoen jaar gelede geleef het. Dit was toe die aarde meestal met moerasagtige woude bedek is. Hierdie soort plante was baie anders as die plante wat ons vandag kry. Mettertyd is van die lae dooie plante op die bodem van die moeras met water en modder bedek. Die boonste lae het afgedruk op die onderste dooie plante. Oor miljoene jare het die hitte en druk die plante in steenkool verander wat ons vandag myn.

Varings was baie algemeen in die prehistoriese wêreld van plante http://commons.wikimedia.org/wiki/File:Tree_Ferns_%28psd%29.jpg
Baie van die aarde was miljoene jare gelede met moerasse bedek.

Die energie in steenkool kom van die energie van die Son. Plante op die aarde het die energie van die son nodig vir fotosintese en om te groei. Die energie is in die blare, blomme en stingels van die plante gestoor. Wanneer die plante doodgaan, word die energie daar vasgevang.

VRAE

Watter drie fossielbrandstowwe is in die storie hier bo bespreek?


Steenkool, olie en aardgasse

Die organismes waarvan fossielbrandstowwe gevorm is, het baie jare gelede gelewe en is baie anders as die organismes wat ons vandag kyr. Hoeveel miljoene jare gelede was dit?


300 miljoen jaar gelede.

Die dooie organismes word mettertyd met sediment bedek. Onthou jy dat ons oor sediment geleer het in Graad 5, Die Aarde en die Heelal, en ook hoe afsettingsgesteentes vorm? Skryf 'n beskrywing van afsetting.





Afsetting is wanneer deeltjies (van sand, rots of organiese materiaal) op die bodem van 'n rivier of die oseaan gaan lê en mettertyd lae vorm wat kompak word.

Wat is die twee hooffaktore wat die oorblyfsels van organismes diep onder die lae rots en modder in fossielbrandstof verander het?


Hoë druk en hitte.

Verduidelik waarom ons sê dat al ons energie oorspronklik van die son kom, selfs die van fossielbrandstowwe.







Die organismes waarvan fossielbrandstowwe gemaak is, het miljoene jare gelede geleef. Die plante het die son se energie gebruik om kos te maak deur fotosintese. Wanneer hulle sterf, word die energie in die oorblyfsels vasgevang wat uiteindelik fossielbrandstof word. Die diere wat die plante geëet het, het ook indirek hul energie van die son gekry deur die plante te eet. Toe hierdie diere gesterf het, is die energie ook in hulle oorblyfsels vasgevang wat later fossielbrandstof word.

Onthou jy dat jy van die fases van materie in Materie en Stowwe geleer het. Elkeen van die drie fossielbrandstowwe wat ons bespreek het is in 'n ander fase van materie. Watter fases is dit?



Steenkool - vastestof, olie - vloeistof, aardgasse - gas

Die prosesse waardeur steenkool vorm en aardgasse en olie vorm het sekere ooreenkomste, maar ook baie verskille. Teken 'n tabel waarin jy hierde twee prosesse vergelyk. Gee vir jou tabel 'n opskrif.














Moontlike antwoorde:

'n Vergelyking van die proses waardeur steenkool vorm en aardgasse en olie vorm (verskillende fossielbrandstowwe)

Vorming van steenkool

Vorming van olie en aardgasse

Miljoene jare gelede het organismes gesterf en begin fossielbrandstowwe vorm.

300 miljoen jaar

300 miljoen jaar

Organismes waarvan fossielbrandstof gevorm is..

Plante (bome, varings en ander plante)

Klein plante en diere

Plek waar organismes gelewe en gesterf het.

Moerasse

Water - meestal oseane en riviere

Lae waarmee die oorblyfsels bedek is.

Sand, modder, water

Sank, slik, water

Faktore wat bygedra het tot die vorming

Hoë druk en hitte

Hoë druk en hitte

Fase van materie waarin die fossielbrandstof wat gevorm het is.

Vastestof - steenkool

Olie - vloeistof, aardgas - gas



Hoe ons die fossielbrandstowwe ontgin verskil ook. Steenkool word meestal verkry deur myne te grawe wat deur die rots en sand gaan om by die steenkoolafsettings diep onder die oppervlak uit te kom. Dit maak 'n groot gat in die oppervlak van die aarde soos jy in hierdie foto van my kan sien.

'n Steenkoolmyn. http://www.flickr.com/photos/herry/35148275/

Olie en aardgasse word verkry deur in die rots af te boor. 'n Reuse boor sink 'n gat in die aarde om by die olie en aardgasse uit te kom en dit dan oppervlak toe te bring. Dit gebeur gewoonlik in die oseaan, soos jy in die foto van die olieboor kan sien.

'n Olieboor in die oseaan wat 'n boor in die oseaanbodem laat sink om by die olie-afsettings uit te kom.

  1. Gebruik die internet om uit te vind watter lande in die wêreld die grootste hoeveelhede steenkool, olie en aardgasse het?



  2. Gebruik die internet om uit te vind watter drie lande in die wêreld die meeste fossielbrandstowwe gebruik.




Ons het nou fossielbrandstowwe en energie bespreek. Hoe kry ons elektriese energie van fossielbrandstowwe?

Dit is 'n goeie vraag, Jojo! 'n Goeie wetenskaplike vra altyd vrae!


Fossielbrandstowwe en elektrisiteit

Die hoofverskaffer van elektrisiteit in Suid-Afrika is ESKOM. ESKOM gebruik hoofsaaklik steenkool om energie te produseer vir industriële en huishoudelike gebruik.

Kom ons kyk na 'n kragstasie om uit te vind hoe steenkool gebruik word om elektrisiteit te produseer.

Kyk na die diagram hier onder wat die stappe van die proses om elektrisiteit van steenkool te maak wys.

  1. Steenkool word van die steenkoolmyn na 'n kragstasie vervoer.
  2. By die kragstasie word die steenkool tot 'n fyn poeier gemaal.
  3. Die fyn steenkool word dan in 'n houer gesit waar dit verbrand word.
  4. Die hitte wat gegenereer word deur die steenkool te brand word gebruik om water in 'n groot kookpot te kook.
  5. Die kookwater maak stoom wat 'n turbiene laat draai ('n turbiene is 'n groot wiel wat draai)
  6. Die turbiene is aan 'n opwekker gekoppel wat 'n spoel gebruik om energie te produseer.
  7. Vanag die opwekker word die elektriese stroom vervoer deur 'n sisteem van hoogspanningslyne (ook kraglyne genoem) na substasies naby ons huise vervoer.
Die proses om elektrisiteit van steenkool te maak in 'n kragstasie.

Maak 'n plakkaat om die bron van ons elektrisiteit op te spoor.


MATERIALE:

  • Plakkaatgrootte papier of karton
  • Kleurpenne of potlode

INSTRUKSIES

  1. Ontwerp en maak 'n plakkaat vir jou klaskamer wat die ketting van voorwerpe en prosesse wys wat ons toelaat om toestelle in ons huise te gebruik (soos 'n televisiestel, stoof of yskas).
  2. Begin met 'n prentjie of tekening van die Son in die linkerkantste boonste hoek en eindig met 'n toestel in die regterkantste onderste hoek van die plakkaat.
  3. Gebruik pyle om die volgorde van voorwerpe en prosesse te wys.
  4. Gee 'n byskrif vir elke voorwerp of proses op jou plakkaat.
  5. Kies 'n opskrif vir jou plakkaat en skryf dit in groot letters bo-aan.

Die volgorde moet iets wees soos son → plante en diere → fossielbrandstof (steenkool) → kragstasie → elektrisiteit → aflewering by huise deur kraglyne → TV (of ander toestel)



Fossielbrandstowwe is nie-hernubare bronne van energie. Dit is omdat hulle miljoene jare neem om te vorm. Wanneer hierdie brandstowwe brand, kan hulle nie herwin of weer gebruik word nie. Hulle is nie-hernubaar.

'n Leerder se begrip van "miljoene jare" mag nie altyd gegrond wees nie. Fossielbrandstowwe is nie-hernubaar aangesien ons hulle vinniger opgebruik (oor 'n paar eeue) as wat hulle kan vorm (miljoene jare). Die punt sal verlore wees op leerders as hulle nie tussen honderde en miljoene kan onderskei nie. Die onderwyser moet dit aanspreek en die betekenis tussen honderde en miljoene moet duidelik gemaak word.

Mense op aarde is besig om die afsetting fossielbrandstowwe baie, baie vinniger op te gebruik as wat hulle gemaak word aangesien hulle miljoene jare neem om gemaak te word! Kyk weer na die diagram van die kragstasie. Sien jy die rook wat afgegee word wanneer die steenkool gebrand word? Dit veroorsaak groot besorgdheid oor die omgeweing aangesien dit die atmosfeer besoedel. Ons gaan later in die hoofstuk kyk hoe om energie te genereer wat, anders as fossielbrandstowwe, hernubaar is.



Koste van elektrisiteit


Het jy al jou ouers en ander volwassenes hoor praat oor lewenskoste? Hulle herinner jou om ligte en ander toestelle af te skakel wat jy nie gebruik nie. Elektrisiteit is 'n duur hulpbron!

'n Leerdermaak dalk die redelike punt maak dat steenkool in elk geval verbrand word, of mens die lig aanlos of nie, maar die punt wat beklemtoon moet word is dat die gesamentlike effek van almal wat elektrisiteit spaar sal lei tot 'n verminderde vraag na elektrisiteit en dus minder druk op die kragstasies. Dit verminder ook die hoeveelheid geld wat julle individuele huishouding op elektrisiteit spandeer as jy dit effektief en spaarsamig gebruik.

Waarom is elektrisiteit so duur?

Elektrisiteit is duur omdat:

  • Die produksie en lewering van elektrisiteit infrastrukture (die strukture en fasiliteite) soos steenkoolmyne, trokke en treine om die steenkool te vervoer, substasies en bedrading nodig.
  • Al hierdie geboue, strukture, materiale en prosesse is baie duur en moet gebou en onderhou word.
  • Party elektriese toestelle het baie energie nodig - sommiges meer as ander. 'n Warmwatersilinder gebruik byvoorbeel baie elektrisiteit om die water warm te maak en dit word dus duur.

Wanneer elektriese energie in jou huis kom, moet dit deur 'n meter gaan. Het jy al 'n wit boks buite jou huis gesien? Dit is die elektrisiteitsmeter. 'n Werknemer van die stadsraad lees die meter sodat hulle kan weet hoeveel elektrisiteit julle gebruik. Hulle stuur dan vir jou 'n rekening vir die koste. Hoe meer elektrisiteit ons gebruik, hoe meer betaal ons en gebruik ons die fossielbrandstowwe op. Party huise het deesdae vooruitbetaalde elektrisiteitsmeters waar jy vir jou elektrisiteit betaal voor jy dit gebruik.

'n Elektrisiteitsmeter. Kan jy die syfers sien wat die elektrisiteitsgebruik in kilowatt ure meet (kWh)? http://www.flickr.com/photos/hendry/397510397/

Gebruik elektriese toestelle

Ons het al genoem dat sommige elektriese toestelle meer elektrisiteit as ander gebruik. Toestelle wat warm maak, soos die warmwatersilinder of verwarmer, gebruik die meeste energie. Hoe weet ons watter elektriese toestel meer elektrisiteit gebruik?

Energie wat elektriese toestelle en apparate gebruik.


Hierdie kan 'n individuele taak wees, elke leerder moet inligting soek sodat hulle kan leer hoe om energie te spaar.

Dit is hoe ons uitvind!

INSTRUKSIES:

  1. Soek eers die toestelle of apparate wat jy in die tabel neergeskryf het. As jy nie van hulle in jou huis of skool het nie, vra familie, vriende of bure of jy na hulle s'n kan kyk.
  2. Kyk na elkeen van die toestelle en kyk of daar 'n etiket, soos die een hier onder, op die toestel is. Die inligting is gewoonlik aan die agterkant of onderkant van die toestel.

230 V-240 V; 50 Hz; 2 kW

  1. Skryf die syfer op die etiket wat deur die W of kW gevolg word in kolom 2 van die tabel. Hierdie syfer wys hoeveel energie die toestel in 'n sekere tyd nodig het. Dit is die krag wat die toestel benodig. Ons meet krag in watt (W) of kilowatt (kW). Hoe hoër die waarde, hoe meer energie het die toestel op 'n spesifieke tyd nodig.

Wys leerders op die verband tussen die eenheid W en kW waar 'n kilowatt 'n 1000 watt is. Net so met meter (m) en sentimeter (cm) en gram (g) en kilogram (kg). Kyk ook na meter en millimeter (mm) en ampere (A) en milliampere (mA)

  1. Sit nog drie ander toestelle by die lys.
  2. Teken al die kragwaardes in kolom 3 in watt op. As die krag in kW gegee word, vermenigvuldig die getal met 'n 1000 om die waarde in watt (W) te kry. As die toestel nie 'n waarde in W of kW gee nie, kyk vir twee hoeveelhede wat in volt (V) en milliampere (mA) gegee word. Vermenigvuldig die twee getalle en verdeel dan die antwoord deur 'n 1000 om die krag in watt te kry.

Appliance or device

Krag in W of kW

Krag in watt (W)

Selfoonlaaier

Elektriese ketel

Televisiestel

Gloeilamp (ou soort)

Energiebesparende gloeilamp

Rekenaar

Elektriese yster

Nota aan onderwyser: Die waardes in die tabel is nie presies nie, maar die volgorde van grootte behoort soortgelyk te wees.

Appliance or device

Krag in W of kW

Krag in watt (W)

Selfoonlaaier

240V en 150mA

36W

Elektriese ketel

2kW

2000W

Televisiestel

60W

60W

Gloeilamp (ou soort)

100W

100W

Energiebesparende gloeilamp

15W

15W

Rekenaar

230V en 500 mA

115W

Elektriese yster

1.4kW

1400W

Rangskik nou die toestelle in die volgende tabel volgens die krag wat dit nodig het. Die lys moet van die kleinste na die grootste waarde krag gaan.

Appliance or device

Krag in watt (W)

VRAE

Wat sien jy in die tabel? Watter twee toestelle het die laagste kragvereistes? Watter ooreenkomste is daar tussen hierdie toestelle?




Moontlik die selfoonlaaier en die energiebesparende gloeilamp. Hulle is klein en het net 'n klein hoeveelheid energie nodig om te werk. Die gloeilamp is spesiaal ontwerp om minder energie te gebruik.

Watter twee toestelle sal die hoogste kragvereistes hê? Watter ooreenkomste is daar tussen hierdie toestelle?




Moonlik die ketel en yster (of enige ander toestel wat vir hitte gebruik word). Hulle word gebruik om hitte te produseer wat baie energie gebruik.



Bespaar elektrisiteit

Gewoonlik net wanneer ek reg is om buitentoe te hardloop, laat my ma my terugkom om my slaapkamerlig af te skakel.

Mooi so! Jou ma is reg, Jojo! Elektrisiteit is duur, so ons moet regtig probeer om dit te spaar.


Dit is nie die enigste rede waarom ons elektrisiteit moet bespaar nie. Onthou jy toe ons oor besoedeling wat kragstasies afgee, gepraat het? Waarom dink jy is dit belangrik om energie te probeer bespaar en die hoeveelheid krag wat jy gebruik te verminder?




Die verbranding van steenkool in kragstasies produseer koolstofdioksied, 'n kweekhuisgas wat bydra tot aardverwarming. As genoeg mense die elektrisiteitsverbruik in hul huise verminder, sal dit die druk op die kragstasie verminder, wat beteken dat hulle minder steenkool hoef te brand en daarom 'n kleiner impak op die natuur sal hê.


Daar is baie maniere om elektrisiteit te spaar, van klein aksies tot groter aksies soos om hernubare energiebronne te gebruik. Ons sal dit later in die hoofstuk bespreek.


Hoe kan jy elektrisiteitsvermorsing in jou huis voorkom? Noem 4 moontlike maniere.



Gebruik energiebesparende gloeilampe, installeer 'n waterverwarmer wat met son werk, skakel alle elektriese toestelle wat nie gebruik word nie af, gebruik so min as moontlik warm water.




Onwettige skakelings

Ons het reeds bespreek hoe 'n wêreld sonder elektrisiteit sou wees en ons het besef hoe afhanklik ons van hierdie hulpbron is. Dit is onwettig vir enige iemand om elektrisiteit wat deur ESKOM gegenereer is, sonder hulle toestemming te gebruik. Party mense maak onwettige skakelings omdat hulle nie wil betaal vir elektrisiteit nie. Hulle sny deur die isolasiemateriaal van 'n kraglyn en heg ander kabels aan die lyn. Hulle lei dan hierdie elektrisiteit direk na hulle huise of werkplekke. Hierdie skakelings is gevaarlik vir mense omdat hulle onveilig is.

Mense wat onwettige skakelings maak probeer elektrisiteit verniet kry, maar die gevare wat daarmee saamgaan is nie die moeite werd nie. Dit is nie jou lewe werd nie!

Kyk na hierdie gemors van onwettige elektriese skakelings. http://commons.wikimedia.org/wiki/File:Alicia_Nijdam-rocinha.jpg

Elektrisiteit en veiligheid

Ongelukke wat deur elektrisiteit veroorsaak word gebeur gereeld. Mense word gereeld beseer of word selfs doodgemaak deur elektrisiteit omdat hulle dit nie veilig gebruik nie. Dit is nie net belangrik om te weet hoe om elektrisiteit veilig te gebruik nie, maar ook wat om te doen as iemand seerkry of geskok word deur elektrisiteit.


Watter soorte noodgevalle kan by die huis of skool plaasvind as gevolg van elektrisiteit?




Iemand kan geskok word deur 'n oop kragprop of onbedekte draad, iemand kan 'n elektriese toestel in of naby water gebruik en skok, daar kan 'n kragonderbreking wees en wanneer iemand die probleem probeer reg maak, kan hulle skok ens.

Vind uit oor die nooddienste in jou area en skryf hulle name en telefoonnommers neer. Skryf hierdie inligting ook op 'n stuk papier en plak dit op die muur naby jou telefoon of êrens waar almal in jou huis dit kan sien.




Oorweeg dit om 'n elektrisiën te kry om oor elektrisiteit en veiligheid met die klas te praat.

Ongelukke met elektrisiteit kan vermy word. Ons moet net slim met elektrisiteit werk. Kom ons formuleer 'n paar veiligheidsreëls vir met elektrisiteit werk.

Veiligheidsreëls wanneer jy met elektrisiteit werk.


Dit is reeds in Graad 5 gedoen, maar dit is 'n goeie idee om dit weer te herhaal aangesien ongelukke met elektrisiteit gereeld by die huis of skool gebeur.

INSTRUKSIES:

  1. Kyk na elkeen van die prente hier onder.
  2. Elkeen wys iemand wat iets anders met elektrisiteit doen; die persoon doen iets gevaarlik.
  3. Beantwoord die vrae oor elk van die prente.

VRAE

Die persoon in die illustrasie gebruik 'n tafelmes om 'n munstuk wat in 'n broodrooster geval het, uit te haal sonder om die toestel af te skakel. Wat is die gevare van hierdie aksie?



Die persoon kan skok, want elektrisiteit kan van die broodrooster, deur die metaalmes na die persoon beweeg.

Watter veiligheidsreël kan jy formuleer oor hierdie situasie?


Sit eers die broodrooster af en trek die prop uit en gebruik dan 'n hout of plastiekmes.

Waarom is hierdie 'n onveilige kabel om te gebruik. Omkring die area wat dit onveilig maak.

Wat kan jy doen om die kabel veilig te maak vir ons om te gebruik?


Vervang die koord of bind isolasieband om die gebreekte koord. Dit sal egter nie 'n kortsluiting voorkom as die drade binne ook isolasiemateriaal het wat verweer het nie. Dit is beter om die koord te vervang.

Watter veiligheidsreël kan jy formuleer oor hierdie situasie?


Moet nooit 'n toestel gebruik wat 'n stukkende koord het of waarvan die metaaldraad deur die koordomhulsel steek nie.

Waarom is dit gevaarlik om die seun van die elektriese draad af te trek?


Elektrisiteit kan van een persoon na die volgende vloei, so jy sal ook skok.

Wat kan die persoon wat wil help doen om die seun te red, sonder om ook deur die elektrisiteit geskok te word?


Gebruik 'n nie-plastiek/nie-metaal voorwerp om hom van die elektriese bron te verwyder.

Watter veiligheidsreël kan jy formuleer oor hierdie situasie?


Moet NOOIT iemand wat geskok word probeer wegtrek van die toestel nie.

Waarom is hierdie nie 'n veilige plek om te speel nie?


Hoë spanningsheinings kan jou skok, selfs al staan jy naby aan hulle sonder om regtig daaraan te vat, of jy mag dalk per ongeluk teen die heining stamp.

Watter veiligheidsreël kan jy formuleer oor hierdie situasie?


Moet nooit naby of op elektriese heinings of kraglyne speel nie.

Waarom is die verbindings gevaarlik?


Te veel elektrisiteit wat deur een kragprop vloei is gevaarlik. Een veelpuntige proppasstuk is veilig, maar moenie verskillende passtukke in mekaar sit nie. Gebruik eerder 2 verskillende kragpunte.

Die regte gevaar is dat deur die prop te oorlaai, die stroombaan verhit wat 'n brand kan veroorsaak.

Watter veiligheidsreël kan jy formuleer oor hierdie situasie?


Moet nooit te veel toestelle in een kontaksok sit nie.

Waarom is dit gevaarlik vir kinders om buite te speel as daar 'n weerligstorm in die lug is?


As hierdie kragtige natuurlike energie naby aan jou slaan, sal dit deur jou by die grond probeer uitkom. Ons liggame is goeie geleiers van elektrisiteit.

Waarom moet ons nie onder 'n boom speel as daar 'n storm is nie?


Die weerlig word deur hoë punte soos die boom aangetrek en kan die boom skok en enigiemand onder dit doodmaak.

Verduidelik waarom dit nie 'n goeie idee is om te swem as daar weerlig in die lug is nie.


Weerlig kan in die water slaan. Water, met opgeloste stowwe sos sout of chloor daarin, is 'n goeie geleier van elektrisiteit en jy kan skok en moontlik doodgaan as jy swem.

Watter veiligheidsmaatreëls kan jy formuleer oor weerlig?


Moenie buite speel as daar donderweer en weerlig is nie.

Waarom is 'n tuinier onveilig as hy die gras in die reën sny? Gee ten minste twee redes.



Water gelei elektrisiteit, jy kan daarom skok as jy aan 'n toestel vat wanneer water in die kontaksok, koord, of motor drup. Hy dra ook nie skoene nie wat gevaarlik is, aangesien hy homself kan sny en die elektrisiteit deur hom in die aarde in kan vloei.

Watter veiligheidsmaatreëls kan jy formuleer vir waneer elektriese toestelle buite in die tuin gebruik word.



Moet nooit elektriese toestelle buite in nat weer of as jy nat is gebruik nie. Dra skoene wanneer jy elektriese toestelle gebruik.




Hernubare maniere om elektrisiteit te genereer


Ons het hier bo gesien dat fossielbrandstowwe nie-hernubare energiebronne is.


Wat verstaan jy as jy die woord "nie-hernubaar" lees?



Dit beteken dit kan nie hernuwe word of weer gebruik word nie. Daar is 'n beperkte hoeveelheid wat eendag opgebruik sal word.


As ons dus 'n energiebron gebruik wat nie-hernubaar is, watter probleem sal ons in die toekoms hê as die hulpbronne opraak? Is daar ander bronne van energie?

Wetenskaplikes en ingenieurs soek maniere om energie aan te wend deur hernubare bronne. 'n Hernubare bron is die teenoorgestelde van 'n nie-hernubare bron. Dit sal nooit opraak nie en kan oor en oor gebruik word.

Hernubare energiebronne sluit natuurlike verskynsels soos sonlig, wind, getye en plantegroei in. Die energie kom van die natuurlike prosesse wat oor en oor gebeur.


Waarom dink jy kan natuurlike verskynsels soos sonlig en wind as hernubare bronne beskou word?



Dit is omdat sonlig en wind nooit sal opraak nie. Hulle kan nie opgebruik word of in ons leeftyd opraak nie. Dit sal altyd op die aarde teenwoordig wees (ten minste vir die tydperk wat mense bestaan - die son mag dalk eendag, ver in die toekoms, geblus word, maar dit is nie relevant wanneer ons aan hernubare bronne dink nie).



Hierdie is nog 'n plek waar ons oor die volgorde van grootte moet praat. Hierdie hulpbronne is beskikbaar so lank as wat die sonnestelsel in sy huidige vorm bly bestaan, vir omtrent nog 3.5 biljoen jaar sê hulle. Hierdie bronne is dus hernubaar omdat dit altyd vir ons as 'n spesies beskikbaar sal wees, selfs al bestaan ons vir nog 'n paar miljoen jaar (ons is eintlik maar nog net 150 000 jaar lank op die aarde).

voorbeelde van hernubare energiebronne is:

  • Sonenergie
  • Wind
  • Oseaan (getye en golwe)
  • waterkrag (watervalle of varswaterdamme)
  • Biomassa (energie van plante en ander organiese materiaal)
  • Geotermies (energie van stoom onder die oppervlak van die aarde)

Son, wind en water kan as bronne van energie gebruik word. Sonpanele kan op huise aangebring word, maar hierdie bron van hernubare energie is slegs op sonskyndae beskikbaar. Windenergie kan deur 'n windmeul of windturbines, wat groot en raserig kan wees, opgegaar word. Hidro-eletrisiteit kragstasies wend die energie in water, wat in damme gestoor word, aan. Dit is net moontlik in areas waar daar hoë berge en riviere is.

Windturbines wat wind gebruik om elektrisiteit te genereer.
'n Waterwiel gebruik die vloei van die water om die wiel in die rondte te stoot, wat dan die werk kan doen.
'n Groot hidro-elektriese kragstasie. As die water van die hoë dam, deur die stasie na die onderste dam vloei, word elektrisiteit gemaak.
Sonpanele

Hernubare teenoor nie-hernubare energie


Om te leer om te debateer is 'n belangrike vaardigheid. Na jy hierdie aktiwiteit gedoen het, kan jy jou debateervaardighede in die klas oefen deur twee groepe aan opponerende kante van die argument te kry.Elke groep moet verstaan dat hulle elke argument, aan albei kante van die argument, moet kan motiveer.

Wat is die voordele en nadele van hernubare en nie-hernubare bronne? Daar is 'n groot debat rondom die gebruik van hernubare en nie-hernubare bronne van energie. Kom ons neem deel aan die debat.

INSTRUKSIES:

  1. Werk in groepe van vier.
  2. Bespreek of jou huis hernubare en nie-hernubare energiebronne gebruik.
  3. Het enigeen in die groep sonpanele by die huis?
  4. Dink oor die voordele en nadele van hernubare en nie-hernubare bronne. Jy kan die internet of ander inligtingsbronne gebruik om nog idees te soek.
  5. Skryf van die antwoorde in die spasie hier onder.
  6. Rapporteer terug aan die klas en vind uit wat die res dink oor die debat.

voordele

nadele

Hernubaar

Nie-hernubaar



As die tyd dit toelaat kan leerders 'n mini-navorsingsprojek oor een van die hernubare energie hulbronne doen en 'n plakkaat aan die klas aanbied waarin hulle vrae soos: "hoe word die hernubare energiebron ingewin en gebruik om elektrisiteit te produseer?", "Word die hulpbron in Suid-Afrika gebruik?" ens. Hierdie plakkate kan in die klaskamer opgeplak word sodat die res van die klas dit kan lees en van kan leer.

  • Meeste van ons elektrisiteit kom van fossielbrandstowwe soos steenkool, olie en aardgasse.
  • Fossielbrandstowwe is die oorblyfsels van dooie plante en diere van miljoene jare gelede.
  • Die energie in fossielbrandstowwe kom oorspronklik van die son wat in plante wat miljoene jare gelewe het vasgevang is.
  • Elektrisiteit is duur as gevolg van die infrastruktuur wat nodig is om dit te produseer en te lewer.
  • Fossielbrandstowwe is nie-hernubaar wat beteken dat hulle sal op raak.
  • Ons moet probeer om energie-effektief te lewe en nie elektrisiteit te mors nie.
  • Onwettige skakelings is 'n groot gevaar vir mense, omdat hulle onveilig kan wees.
  • Daar is ander hulpbronne wat hernubaar is en wat gebruik kan word om elektrisiteit te genereer, soos windkrag, sonkrag, en waterkrag.


Kyk na die vloeidiagram hier onder. Beskryf wat dit wys en wat jy in die hoofstuk geleer het.








Die son produseer energie wat die plante vasvang en gebruik om kos te produseer deur fotosintese. Diere eet die plante. Wanneer die prehistoriese plante en diere miljoene jare gelede gesterf het, het die oorblyfsels in fossielbrandstowwe (soos steenkool, olie en aardgasse) verander. Dit was omdat hulle met lae sediment of modder en water bedek was, wat mettertyd in rots verander het en groot druk en hitte op die oorblyfsels uitgeoefen het. Hierdie fossielbrandstowwe word vandag gemyn en van binne die aarde se kors bymekaargemaak. Olie word verwerk om petrol en diesel te maak en die energie van die fossielbrandstof word byvoorbeeld in motors gebruik waar dit gebrand word en die energie vrygestel word om die motor krag te gee.

Waarom is fossielbrandstowwe nie-hernubare hulpbronne?





Dit is omdat daar 'n beperkte hoeveelheid fossielbrandstowwe is wat eendag sal opraak omdat ons fossielbrandstowwe vinniger gebruik as wat hulle gemaak word (wat miljoene jare neem). Dit kan nie weer gebruik word nie.

Skryf 'n paragraaf waarin jy beskryf hoekom jy dink mense alternatiewe energiebronne, soos hernubare energiebronne, behoort te ondersoek en hoe dit die aarde kan help.









Antwoorde hang van leerders af, maar jy moet assesseer of 'n leerder die vermoë het om 'n argument aan te bied en te motiveer. Sommige van die redes wat die leerders kan voorhou is die feit dat ons afhanklikheid van nie-hernubare energiebronne nie volhoubaar is nie en 'n toekomstige probleem kan raak as hulle op raak. Die verbranding van fossielbrandstowwe het ook 'n ernstige impak op die omgewing aangesien die koolstofdioksied wat vrygestel word bydra tot kweekhuisgasse en aardverwarming.

Watter soort elektriese toestelle in ons huis gebruik die meeste energie in 'n spesifieke tyd?



Afhangend van die aktiwiteit, maar gewoonlik toestelle wat hitte verskaf soos 'n warmwatersilinder of verwarmer.

Verbeel jou jy moet 'n artikel vir jou plaaslike koerant skryf oor hoe om elektrisiteit in jou huis te bespaar. Gebruik jou verbeelding en skryf jou artikel waarin jy vir mense sê hoe om elektrisiteit te bespaar. Gebruik die spasie hier onder. Gee vir jou artikel 'n aantreklike opskrif.













Assesseer leerders se vermoë om kreatief oor 'n wetenskapverwante onderwerp te skryf. Hulle moet die kennis wat hulle in die hoofstuk opgedoen het gebruik om iets kreatief te skryf. Wenke om elektrisiteit te bespaar kan van die volgende wees: sit die ligte af as jy nie in die kamer is nie, gebruik energiebesparende gloeilampe, verminder storttyd sodat jy minder warm water gebruik, sit die warmwatersilinder deur die dag af, gebruik 'n gassstoof in plaas van 'n elektriese stoof, en groter aksies soos sonkrag installeer ens.

Hoe dink jy sal die besparing van elektrisiteit die druk op ESKOM se kragstasies verminder.





Hoe meer elektrisiteit jy gebruik, hoe meer steenkool moet by die kragstasies verbrand word om elektrisiteit te produseer. Deur elektrisiteit te spaar, gebruik jy minder elektrisiteit so daar is minder druk op die kragstasies.

Wat is 'n onwettige elektriese skakelings? Hoe dink jy kan die plaaslike regering dit keer of die hoeveelheid onwettige skakelings verminder.







'n Onwettige skakeling is wanneer iemand toegang kry tot elektrisiteit deur 'n kraglyn te sny en 'n ander lyn daaraan te verbind sonder om daarvoor te betaal. Die plaaslike regering kan dit probeer stop deur eerstens te probeer om die armer areas met genoeg elektriese toegangspunte te voorsien, rond te gaan en te kyk dat daar nie gevaarlike skakelings is nie, bewustheid oor die gevare van onwettige skakelings te verbeter deur advertensieborde, radio, die koerant ens. Assesseer enige ander relevante antwoorde wat jou leerder mag hê.